Wednesday, 30 July 2014

DAG 6 – DIE LIEFDE IS NIE GEIRRITEERD NIE




“’n Geduldige man het meer waarde as ‘n bedrewe vegter, ‘n mens met selfbeheersing meer as iemand wat ‘n stad inneem.” Spreuke 16 vers 32


Kies vandag om met liefde te reageer op moeilike omstandighede in jou huwelik in plaas van geirriteerheid.   Begin deur ‘n lys te maak van waar jy tyd in jou skedule moet inwerk en daarna ‘n lys van verkeerde motiverings wat jy uit jou lewe moet haal.


JOURNAAL INSKRYWING 30/07/2014

Die uitdaging is in werklikheid tot op die stadium   'n herhaling oor en oor.  Wees geduldig.  Al jy geduld beoefen sal jy nie onbeskof of geirriteerd wees nie.  Jy sal bedagsaam en goedgesind wees.  Jy sal nie net aan jouself dink nie.  Dit is wat liefde is.  Dit is wat liefde veronderstel is om te wees.

Ek werk hard aan myself en probeer om in liefde te lewe.  

Gisteraand was ek net ek.  Ek was niemand se ma nie.  Ek was niemand se vrou nie.  Ek was niemand se kind nie.  Ek was net EK.  Die ek wat verlore gebly het omdat al die ander rolle in my lewe prioriteit bo my ontvang het. 

Ek het gelag en gedans en gesing.  Myself geniet.  Vry gevoel.  Gelukkig gevoel.  Deur myself te wees het alles wat die uitdaging my probeer leer self in plek geval.   Ek was geduldig en vriendelik en bedagsaam. Ek was nie selfsugtig of geirriteerd nie.  Omdat ek myself nie onderdruk het nie.

Ek weet dit is nie waaroor die uitdaging vandag gegaan het nie, maar ek voel beter.  Sien kans vir enige iets wat voorlê, want ek het besef ek is ook belangrik.  Wanneer ek met myself gelukkig is kan ek ander mense gelukkig maak.

Ek gaan meer tyd inruim om soos gisteraand my gesin te geniet. Ons het almal gelag en was gelukkig.

Ek gaan tyd vir myself maak.  Ek weet dit klink of dit net oor my gaan.  Maar elke vrou of man moet een of ander tyd net iets vir hulleself doen.

Die slegte motiverings is ek nie van seker nie.  Spanning sal tog altyd in jou lewe wees.  Of dit persoonlik of werk of van buite af kom.  Jy kan slegs besluit hoe jy op die spanning gaan reageer.





Tuesday, 29 July 2014

DAG 5 – DIE LIEFDE IS NIE MINAGTEND NIE / DIE LIEFDE IS BELEEFD



“As iemand sy buurman vroegdag met ‘n geskreeu môre-sê, kan mense dink hy is besig om hom te vloek.” Spreuke 27 vers 14


Vra jou eggenote met jou drie dinge te deel wat hulle ongemaklik of geirriteer maak met jou. Onthou om nie ‘n aanval te loots nie of jouself te probeer verduidelik nie.  Dit is slegs uit hulle perspektief.


JOURNAAL INSKRYWING – 29/07/2014

Hier kom moed hou en kop hou baie ter sprake.  Luister sonder om te antwoord.  Luister.  Hoor wat jou maat sê.  Moet nie jou gedrag probeer verduidelik nie.  Moet nie aanval nie.  Luister.

Ek het besluit om voor ek my maat vra watter 3 van my gewoontes of optredes hom die mure uit dryf, ek eers die 3 gaan kies wat ek dink.

     My ongeduld – Ek is meer as seker dat hierdie punt nommer een op sy lys ook gaan wees.  Met 7 dae agter die rug waar ek hard probeer om nie ongeduldig te wees nie, weet ek die pad is nog lank.

        My pessimisme – Ek sien altyd die slegste dinge eerste.  Maak nie saak of dit mense of besigheid is nie. Ek maak ‘n opsomming en dit is dit.  Ek is nie bereid om daaroor te debateer nie. 

      My wantroue – Ek sukkel met verroue.  Ek vertrou nie maklik nie. As jy eenkeer ‘n onwaarheid vertel het, maak nie saak hoe klein of onskadelik nie, sal ek alles wat jy daarna sê met ‘n knippie sout neem.

Ek is ‘n wantrouerige, ongeduldige pessimis.  Ja ek het dit gesê.  Maar ek werk daaraan.  Ek werk aan myself, want ek wil ‘n beter persoon wees.

My man se perspektief : “Daar is nie iets aan jou wat ek wil verander nie.  Ek het met jou getrou net soos wat jy is.  Nie om jou anders te maak nie.”  (En daar skree my binneste “Maar ek het verander. Ek is nie meer daai vrou met wie jy getrou het nie.”) Of dit is omdat hy nie wou sê nie of omdat hy werklik niks aan my wil verander nie sal ek nie weet nie.


Dag 6 hier kom ek.


DAG 4 - DIE LIEFDE IS BEDAGSAAM




“Hoe wonderlik is u gedagtes vir my o God, hoe magtig hulle almal. As ek hulle sou wou opnoem – hulle is meer as wat daar sand is, en as ek daarmee klaar is, sou ek nogsteeds met u te doen hê.” Psalm 139 vers 17 & 18


Wees geduldig, goedgesind en onselfsugtig. Kontak jou eggenote gedurende die dag.  Moet geen agenda hê nie, vra net hoe dit gaan en of daar enige iets is wat jy kan doen om hulle dag beter of makliker te maak.


JOURNAAL INSKRYWING 28/07/2014

Die uitdaging is moeiliker as wat ek oorspronklik gedink het.  My geduld het die laaste dae baie verbeter, maar ek het besef dat ek selfsugtig is.  Ek wil nie my man deel nie. Nie met enige iemand, behalwe my seuntjie nie.  Ek wil nie die kosbare tyd wat ons as ‘n gesin het korter maak deur ander mense in ons tyd toe te laat nie.


Ek hou daarvan as my man by my is.  Ek hou daarvan as ons tyd saam spandeer soos nie naweek. Ek is mal daaroor as ons nie nodig het om te praat nie, maar steeds mekaar verstaan. 

Ek het D deur die dag gebel net om te hoor hoe dit met hom gaan en of ek iets kan doen om te help.  Hy het baie stil geraak, verbaas omdat ek nie wil weet oor hoe laat hy huis toe kom of waarmee hy besig is nie.  Hy het na die stilte gesê hy is lief vir my en dat hy my later sal sien.  Nie ‘n antwoord op my vraag nie.

Ek vind my optrede vreemd.  Ek weet dit is omdat dit nuut is, maar dit is nie maklik om herhalend jou gedagtes op geduld te fokus nie.  Wat wel makliker word is die feit dat my trane nie sommer dadelik loop nie, my opvlieendheid amper verdwyn het en my liefde vir my man groei. 

Ek dink baie aan die mense om my se huwelike.  My ouers se huwelik is ‘n goeie voorbeeld, hulle het ook deur donker tye gegaan, maar dit lyk of hulle sterker aan die ander kant uitgekom het.  My grootouers se huwelike was van wat ek kan onthou ook mooi en goed.  My ouma het my oupa met tye tee gegaan, hom iets onvanpas toegesnou, maar hy het geweet sy is lief vir hom.

Is dit moontlik dat ons jonger (laat 70’s en vroeë 80’s gebore) generasie te maklik opgee?  Is ons dalk effe gebreinspoel om nie te baklei vir wat ons wil hê nie? Of het ons te maklik gekry dat ons nie weet hoe om wat ons sin is op te pas nie?


Ek wil graag die tipe huwelik hê waarop my kind kan trots wees.  Daai een wat vir hom die beste voorbeeld gaan wees en ek gaan nie opgee tot ek daai huwelik het nie.







Friday, 25 July 2014

DAG 3 - DIE LIEFDE IS ONSELFSUGTIG




"Betoon hartlike broederliefde teenoor mekaar, bewys eerbied teenoor mekaar en wees mekaar daarin tot voorbeeld." Romeine 2 vers 10


Waarin jy jou tyd, geld en energie spaandeer is wat vir jou die belangrikste sal word. Dit is moeilik om om te gee vir iets waarin jy nie belê nie.  Beoefen van dag geduld, goedgesindheid en koop iets vir jou eggenote wat sê :"Ek het vandag aan jou gedink."


JOURNAAL INSKRYWING - 25/07/2014

Dag 3 was uiters suksesvol.  My geduld het die hele dag gehou. Ek was vriendelik en het vir my man iets gekoop wat my aan hom laat dink het.  Hy het my deur die middag gebel om te sê hoe sy beplanning loop (Ek het amper op my rug geval.  Dit is iets wat hy maande laas gedoen het) en hy was net na 17h00 by die huis (weereens kon ek die skok nie weg steek nie)

Ons het lekker gesels oor my en sy dag.  Hy het my vasgehou in die aand en gesê hy is lief vir my.  Ek was verras en gelukkig.  Ek weet dat dit gedeeltelik met my gedrag te doen het. 

Wanneer jy vir iemand lief is en voel dat daar op ‘n stadium niks anders as liefde oor is nie, is dit jou verantwoorderlikheid om die beter te maak.  ‘n Huwelik is tog nie net ‘n speletjie nie.  Dit is harde werk.  En solank jy bereid bly om te werk aan jou huwelik kan enige iets gebeur.

Ek is opgewonde oor my huwelik.  Ek is opgewonde om myself te verbeter.  Ek is opgewonde om my man se potensiaal te sien. (Na 12 jaar saam was gister een van die lekkerste dae wat ek saam met my man gehad het en ons het nie iets buitengewoons gedoen nie, net iets wat mens elke dag doen.)

Ek is ook opgewonde oor my liefdesreis.  Dag 4 hier kom ek!

Thursday, 24 July 2014

DAG 2 - DIE LIEFDE IS GOEDGESIND





“Wees goedgesind en hartlik teenoor mekaar en vergewe mekaar soos God julle ook in Christus vergewe het.” Effesiers 4 vers 32

Net soos in dag 1 beoefen geduld en verwyder negatiwiteit uit jou verhouding, maar voeg ‘n onverwagste gebaar by.  Doen te minste een iets wat jou eggenote nie verwag het nie.


Journaal Inskrywing  - 24/07/2014

08h 30


Ek staar na vandag se uitdaging.  My gedagtes ‘n warboel.  Nie net omdat ek nie dag een susksesvol kon slag nie, maar omdat ek voel ek steek ‘n hand uit maar die hele arm word af geruk.  Deur nie ongeduldig met hom te wees nie het hy nog later as van te vore huis te gekom en my glad nie laat weet wat aangaan nie. Dit is moeilik, want dit voel of die duiwel probeer om my goeie intensies te omskep in ernstige probleme.

Wees goedgesind. Wees goed.  Moenie slegte gedagtes in jou hart vasmaak nie. Wees hartlik. Wees oop en lief.  Moenie jou hart swart laat raak nie. En dan vergewe mekaar. 

God kan ons enige iets vergewe, hoekom is dit dan so moeilik vir my om my man se onbedagsaamheid te vergewe?  Ek weet nie.  Seker net met die Here se hulp.

Die verwagte gebaar sal wees om my man ‘n lang boodskap te stuur waarin ek my pyn en hartseer verduidelik.  Of my onverwagte gebaar kan ‘n pan oor die kop wees as hy weer laat kom (Volgens my suster  gaan die een nie die paal haal nie) So die onverwagte gebaar sal wees om hom ‘n booskap te stuur – EK IS LIEF VIR JOU! – En daarna sonder om iets terug te verwag aan te gaan met my dagtake.

18h00

My onverwagte gebaar is toe om ‘n vuurtjie te maak en ietsie te braai.  My man is mal oor braai, maar ek beperk dit gewoonlik tot naweke. Het deur die dag die nodigste goedjies gekry en het net na 17h00 die vuurtjie gemaak.  Maar tot nou nie ‘n woord van my man nie.  Ek het hom ‘n boodskap gestuur dat ek hom lief het.  En later een om te vra of hy saam met ons wil braai.  Die eerste een is geantwoord met “Ek vir jou ook – jy is my enigste”, maar die 2de een het ongeantwoord gebly.

My gemoedere is vanaand weer nie lekker nie.  My seuntjie het vir 45 minute vanmiddag verdwyn.  Ek was mal van bekommernis.  Hy is gelukkig gevind waar hy heerlik sit en speel.

Ek het maar klaar gebraai.  Miskien is die winter nie die slimste tyd om te wil braai. Die koue is nogal knypend.  En nou wag ek vir my man. Oefen my asemhaling, glimlag en my stil bly tegniek. En intussen bid ek dat die Here my vanaand geduld gee. 
Love is patient, Love is kind…..

04h00

Ek kan met alle eerlikheid sê dat ek gisteraand geduldig kon bly. Hy was laat en het my gebaar gemis en nie ‘n woord daarna gerep nie.  Dinge was vreemd. Hy wou nie met my praat oor sy dag nie.  Hy wou niks deel nie en as ek vra of iets fout is dan was die antwoord net nee.  Ek kan sien iets pla hom baie, maar gaan nie nou die onderwerp druk nie.

‘n Uitdaging is nooit maklik nie, jy moet nie onder die indruk wees dat alles outomaties in plek gaan val nie.  Dit is harde werk. 


Ek gaan dag 3 in met ‘n positiewe denkwyse.  Ek kan dit doen! Ek kan ‘n beter mens wees.  Ek kan my man se steunpillaar wees, want ek is lief vir hom en sal enige iets vir hom doen.




Wednesday, 23 July 2014

DAG 1 - DIE LIEFDE IS GEDULDIG



“Wees altyd beskeie, vriendelik en geduldig, en verdra mekaar in liefde.” Effesiers 4 vers 2


Die eerste gedeelte van die uitdaging is eenvoudig.  Alhoewel liefde op baie maniere gekommunikeer word,  kan ons woorde duidelikheid gee oor wat in ons harte aan die gang is. Vir die volgende dag neem die besluit om geduld te beoefen en negatiwiteit uit jou verhouding te haal.  Wanneer die verleiding wel opduik, plaas eerder ‘n wag voor jou mond en sê  niks.  Dit is beter om stil te bly as om later spyt daaroor te hê.


Journaal Inskrywing 23/07/2014

Na aanleiding wat die laaste 4 maande in my huwelik aangaan, het ek die besluit geneem om eerder iets te probeer as om my maat verder van my af weg te dryf.  Ek het Fireproof jare gelede gekyk en het onthou van die “LoveDare”. My man weet nie dat ek met die uitdaging begin het nie.

Ek is ‘n ongeduldige mens.  Ek weet dit en my man weet dit.  Dat my eerste dag moet afskop met geduld het my moed in my skoene laat sak. Gelukkig het ek besef dat ek net moet stilbly.  Niks moet sê waar ek gewoonlik dadelik oprukkerig raak nie.  Dit is makliker as om te moet luister en verstaan wanneer jy nie wil nie.  Wanneer dit vir jou voel jy word te na gekom.  Bly net stil.

Dit is nie dat ons nie praat nie, maar ons gesprekke gaan meeste van die tyd oor sy werk of die feit dat hy laat werk of oor hy sê hy werk laat terwyl hy aand na aand drink en saam met vriende kuier. (En dit is net hier waar ek diep moet asem haal en geduld beoefen.  My hartklop het die hoogte in geskied deur net daar aan te dink)

Hoe het my dag sover afgeloop? Van 05h00 vanoggend af tot nou 16h20.  Tot hier het ek nog nie my man ongeduldig hanteer of iets gesê waaroor ek spyt is nie.  Ek het hom vriendelik gegroet en vriendelik geantwoord as hy bel.  Ek het nog nie begin boodskappe stuur om te hoor hoe laat hy tuis sal wees nie. (Ja die verleiding is baie erg, maar ek gaan dit nie doen nie.) Ek het nog nie eers my gewone self gesprek routine begin nie. (Dit is waar ek solank my aanval oefen vir wanneer my man tuis sal kom)  Ek probeer so kalm as moontlik bly en om tot by tien te tel en asem te haal help rerig.

Dit is nou net na 03h00.  Al die goeie voornemens om stil te bly het gister aand ‘n halfuur nadat my man by die huis in gewals gekom het by die deur uit gevlieg. Moes eers hoor van sy harde dag se werk en al die baie nonsens wat daar mee gepaart gaan, stukkies van die stories wat klein onwaarhede vorentoe bring. Ek het vriendelik daarna uitgevra en weer geluister hoe dit verander. Daar was gewerk maar daar was by “Drie Bruggies” ook gekuier en gedrink en gelag en gesels.  
Ek het op my tande gekners, maar kon nie stilbly nie. Oor en oor het ek in my gedagtes gesê “Be completely humble, gentle and patient!”  Hy is weer laat omdat kuier en drank en vriende bo sy gesin gekom het.  Ek dink nie hy besef hoe seer hy my maak nie.  Hy weet nie dat hy elke aand my hart in duisende stukkies breek nie.  Ek weet nie hoeveel ek meer kan vat nie.  Dit is nie hoekom ek met hom getrou het om aand na aand te wag dat hy half nugter by die huis aan kom nie.  Ek wil nie meer ons 5 jarige seuntjie se vrae ontduikend antwoord nie.

 Sy laaste woorde aan my was “Ag fok weet jy…………………” Myne aan hom was “Ek voel dieselfde, my man!” Ek het omgedraai en in die bed gaan klim, kon nie die trane keer nie. Ek het myself geforseer om toe hy later in die bed klim te se lekker slaap.  Geen nag soen, geen vashou.  Net koue en trane en eensaamheid.
Nee ek is nie spyt oor wat ek gesê het nie. Daar was seker ‘n mooier manier om dit te stel, maar ek kon nie. Ek kon nie stilbly nie.  Die eerste uitdaging het ek gefaal omdat ek nie net kon omdraai en weg loop en my mond hou nie.

Ek weet alles wat die moeite werd is vat harde werk en 40 dae is nie ‘n baie lang tyd nie.  Maar ek dink nie die dag was ‘n totale mislukking nie. Ek het iets geleer. Ek moet elke dag bietjie geduldiger met myself ook wees. Geduld is nie net gereseveer vir jou eggenote of kinders nie.  Jy kan geduld met jouself ook beoefen.  Solank jy net in die regte rigting bly beweeg al is dit klein treetjies.


Nou sluit ek af want die hoofpyn van gisteraand se uitbarsting (nie soos al my voriges nie) moet gestop word en ek moet slaap in kry vir die dag wat voorlê, want ek sien kans vir die volgende uitdaging.  
Dag 1 was dalk nie my beste dag nie, maar dit beteken Dag 2 kan net soveel beter wees.